ONTDEK EKSOTIES MAROKKO!

Koste: R36,000 per persoon / Enkelkamer bybetaling R7,000. Datums: 06 April - 17 April 2018

‘n Besoek aan Marokko gee jou ‘n blik op ‘n eksotiese wêreld van slangbesweerders en kulkunstenaars, Arabiese markte (bekend as ‘n “soek”) hemelhoog gestapel met hope skatte, en ontelbare glase kruisementtee. Marokko bied jou ook ‘n avontuur om van Noord Afrika asemrowendste landskappe te besigtig – die woestyn op die drumpel van die land geleë, en verder ook die magtige Atlasgebergte. In hierdie fassinerende land beleef jy die samesmelting van twee wêrelde: Afrika en Arabië – albei diep gewortel in eeue oue tradisies en gebruike.

Casablanca is die land se ekonomiese hoofstad. Sy welbekende Hassan II Moskee, is nie alleenlik ‘n rojale simbool van die stad as sulks nie, maar ook van Marokko as geheel.

Ons doen aan in Rabat, die hoofstad van Marokko, waar ons tyd het om hierdie pragtige kusstad te geniet. Ons sit ons tog voort na die imperiale stad Meknes, beroemd vir sy 40 kilometer lang mure en bestempel as die “Marokkaanse Versailles”. Hier besoek ons ook die antieke Romeinse ruïnes van Volubilis.

Fez wat hedendaags ‘n UNESCO Erfenisgebied is, is in die 9e eeu gestig en huisves die wêreld se oudste universiteit. Ons verken die Medina van Fez, ‘n doolhof van eeue oue smal stegies met honderde handelaars en ambagsmanne wat ‘n reeks produkte verkoop soos dadels, vis, speserye, koperketels en musikale instrumente.

Op pad na Erfoud (beroemd vir sy dadelfees en fossiele) ry ons deur ‘n skilderagtige landskap van seders. Ons steek die Middel Atlas Gebergte oor deur die dramatiese Ziz Vallei, bekend vir sy palmbome en besondere lang oase. Oral langs die pad tref mens “ksars” aan – klein gehuggies van individuele huise.

Ons reis deur die Sahara begin met ‘n besoek aan ‘n Nomadiese nedersetting voordat ons teen sonsondergang op kamele ry na die manjifieke Erg Chebbi en sy wonderlike rooi sandduine. By hierdie weelderige woestynkamp verlustig ons ons in ‘n tuisgemaakte fees van Morokkaanse kos terwyl meesleurende Berber dromme en liedere ons vermaak.

Hiervandaan reis ons op ‘n roete bekend as die “Road of a thousand Kasbahs” na die asembenemende Todra Ravyn wat danksy sy hoë kranse van rooskleurige en grys rotse ‘n gewilde plek is vir die verfilming van Hollywood rolprente.

Die Dades Vallei en die Vallei van die Rose (soos die naam aandui is dit beroemd vir sy pragrose) verskaf ruim geleentheid om jou mees uitstaande foto’s van ons tog deur die Vallei te neem. Reis verder na Quarzazate, die “Hollywood van Afrika”, verby die Ait Ben Haddou Kasbah, nog ‘n UNESCO erfenisgebied. Op pad na Marrakesh ry ons deur die hoë Atlas Gebergte met vele panoramiese uitsigte en aanskoulike Berber dorpies.

Marokko as land word as geheel weerspieël in die woelige, lewendige Marrakesh Medina. Besoek die indrukwekkende Koutoubia Moskee – die bekendste baken in Marrakesh, sowel as die Bahaia Paleis en die Saadian Graftombes. ‘n Mens kom die ou stad binne vanaf die tamaai Djemme el-fna Plein waar die helfte van die stad se bewoners die hele dag lank tot saans saamdrom en hulle tyd verwyl saam met die handelaars, stalletjie-eienaars, tradisionele musikante, slangbesweerders en akrobate wat van tyd tot tyd hulle opwagting maak. Wanneer jy die Medina betree, word jy deel van ‘n doolhof van stegies en die gedrang van winkeleienaars – word jy één met die kleurryke, lawaaierige lewe van Marokko.

En uiteindlik, om die kroon te span, verlustig ons ons in heerlike, talmende middag- en aandetes wanneer die beste van tipies, liplekker Marokkaanse geregte voorgesit word.



Kontak :

Tel : +27 21 462 7022
Email : res@rufaro.co.za